Gbagbo se woordvoerder van moord aangekla
2012-10-02 09:35
Accra – Beamptes in Ghana het Maandag die woordvoerder van die Ivoorkus se voormalige leier, Laurent Gbagbo, van moord aangekla ná ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming in sy tuisland uitgereik is.
Dit kom slegs dae nadat hy borgtog toegestaan is terwyl hy gewag het vir sy uitleweringsverhoor.
Justin Kone Katinan se prokureur, Patrick Sogbodjor sê ten spyte daarvan dat die beweerde moord in die Ivoorkus gepleeg is, het aanklaers hom in Accra aangekla in ‘n poging om hom in aanhouding te hou ná sy vroeëre vrylating op borgtog.
Owerhede het geweier om die besluit verder te verduidelik en het vrae na ‘n polisiewoordvoerder verwys, wat nie op telefoonoproepe gereageer het nie.
Katinan is op 25 September tydens ‘n uitleweringsverhoor borgtog toegestaan, terwyl hy in die Ivoorkus gesoek word vir aanklagte wat verband hou met ekonomiese misdade.
Hy is egter Vrydag weer in hegtenis geneem op die aanklag van moord, waarna beamptes in die Ivoorkus, dieselfde dag as wat hy borgtog toegestaan is, 'n nuwe lasbrief uitgereik het.
Hy is Maandag van drie aanklagte van sameswering aangekla, sowel as die moord van twee mans in Abidjan in Maart verlede jaar.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP