Gays binnekort in Kenia-studie
2009-10-30 05:54
Nairobi - Kenia gaan ‘n studie onder homoseksuele mense doen waarvan die bevindinge gebruik sal word om die verspreiding van MIV/vigs te beheer.
In Kenia, asook in ‘n hele aantal Afrika lande, is homoseksualiteit onwettig.
Die navorsing sal deur die “National AIDS/STD Control Programme” (NASCOP) gedoen word en behoort in Desember te begin, het Nicholas Muraguri, direkteur van die groep gesê.
“Dit blyk uit vorige studies dat 15% van MIV gevalle toegeskryf word aan homoseksuele mense.”
“Ons kan geraas maak hieroor, maar ons kan dit nie ignoreer nie,” het hy gesê.
Die studie beoog om te bepaal presies hoeveel gays in die land is.
Daar is na raming tans 10 000 in Nairobi en Mombasa.
Verder wil hulle uitvind hoeveel MIV-positief is en wat die gewoontes is rondom die gebruik van kondome.
Deur middel van 'n anonieme vraelys sal hulle ook probeer vasstel hoeveel maats elkeen het en vrywillige MIV/vigs-toetse aanbied.
“Dit is die eerste keer dat ‘n Afrika regering daadwerklike stappe neem om ‘n bevolking wat bedreig word deur die virus, te beskerm,” het Muraguri gesê.
Hy het die anonimiteit van die studie verseker.
- Sapa