Gay paartjie se vonnis ‘verregaande’
2010-05-20 16:29
Blantyre – Menseregte-aktiviste het die vonnisoplegging van die Malawiese gay paartjie wat Donderdag tot 14 jaar tronkstraf gevonnis is, as “verregaande” en ‘n “skending van menseregte” beskryf.
Volgens Michelle Kagari, adjunk-direkteur van Amnestie Internasionaal in Afrika, sal sy aanhou werk om Tiwonge Chimbalanga (20) en Steven Monjeza (26) se vrylating so gou moontlik te bewerkstellig.
‘n Regter het die paartjie met die maksimum straf onder Malawi se anti-gay-wetgewing gevonnis.
Hulle is gestraf op aanklagte van onnatuurlike dade en onsedelikheid.
Mark Heywood, direkteur van Suid-Afrika se Aids Law Project, het voorgestel dat aktiviste regoor die wêreld betogings teen Malawi hou.
Betsy Chirambo, ‘n adviseur van die Malawiese president Bingu wa Mutharika, is bekommerd oor oproepe wat hulle van Westerse aktiviste gekry het.
Sekere aktiviste dreig om skenkings aan Malawi te onttrek. Tot 40% van Malawi se ontwikkelingsbegroting kom van buitelandse skenkers af.
Die regering word deur godsdienstige leiers in die land ondersteun wat homoseksualiteit met Satanisme vergelyk.
Die debat het egter ook sekere regsaktiviste in Malawi aangemoedig. Die land se sentrum vir menslike ontwikkeling is onlangs deur Malawiese aktiviste gevorm om vir die reg van homoseksuele mense en ander minderheidsgroepe te veg.
“Hoe kan hulle 14 jaar kry net omdat hulle lief is vir mekaar? Selfs al word hulle vir 20 jaar toegesluit kan ‘n mens nie hul seksualiteit verander nie,” het Gift Trapence, die direkteur van die sentrum, aan joernaliste gesê.
- AP
Volg Nuus24 op Twitter.