Gay paartjie: ‘President is ‘n pa wat omgee’
2010-06-04 05:58
Blantyre – Die Malawiese gay paartjie wat deur hul president Bingu wa Mutharika vrygelaat is, beskryf hom as ‘n “pa wat omgee” en ‘n president wat “verdraagsaam” is.
Volgens Tiwonge Chimbalanga (20) en Steven Monjeza (26) wens hulle die president goeie gesondheid toe terwyl hy aanhou om menseregte te respekteer.
Hulle het Woensdagaand ‘n perskonferensie gehad wat hulle eerste publieke verskyning was nadat hulle Saterdag vrygelaat is.
Chimbalanga en Steven Monjeza is vrygelaat nadat hulle tot 14 jaar tronkstraf gevonnis is vir onsedelikheid en onnatuurlike dade nadat hulle ‘n simboliese troue gehad het.
Die kwytskelding kom nadat Mutharika met Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, vergader het.
Volgens Mutharika was die gay paartjie se troue “satanisties omdat hulle ‘n misdaad teen ons kultuur, teen ons geloof en teen ons wette gepleeg het.”
Muthatrika het egter gesê hy het die twee mans vrygelaat want “dis menslik om ‘n fout te maak, maar dis goddelik om te vergewe.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP