Gay-aktivis se begrafnis ontwrig
2011-01-28 23:00
Kampala – Gevegte tussen plaaslike inwoners en die vriende van ‘n vermoorde gay-aktivis het die aktivis se begrafnis ontwrig.
Die dominee het blykbaar tydens die begrafnisdiens homself teen homoseksuele mense uitgespreek en die dorpsmense het geweier om die kis te begrawe.
David Kato is vroeër die week met ‘n hamer doodgeslaan.
In Oktober verlede jaar het ‘n foto van Kato in die plaaslike koerant verskyn wat geëis het dat homoseksuele mense tereggestel moet word.
“Hang hulle,” het die koerantberig gesê.
Die polisie in Uganda sê egter Kato se moord was tydens ‘n rooftog.
Menseregte-aktiviste vermoed egter dat dit weens sy homoseksualiteit was.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters