Gambië verdedig teregstellings
2012-08-31 11:45
Banjul – Gambië het die teregstelling van nege gevangenes wat in die land se dodesel was, verdedig, ondanks die feit dat dié stap wyd veroordeel is, onder andere deur die Verenigde Nasies.
Ministers het laat Donderdag met Westerse verteenwoordigers vergader en beklemtoon dat die teregstellings in lyn is met die land se wette, het die presidensie in ‘n verklaring gesê.
“Elke soewereine staat het sy eie nasionale wette wat anders kan wees as ander lande s’n en in Gambië se geval was die vonnisse wat opgelê is in ooreenstemming met die wette van die land,” het die verklaring gelui.
“Geen regstelsel in die wêreld is perfek nie, insluitend ander lande s’n.”
Navi Pillay, die VN se hoof vir menseregte, het vroeër Donderdag gesê die teregstellings is ‘n terugslag vir menseregte.
Die Senegalese president, Macky Sall, het intussen gesê hy is “baie spyt” oor die teregstellings. Twee van die mense wat tereggestel is, 'n man en 'n vrou, is burgers van Senegal.
Nog 38 gevangenes sal in die komende weke deur ‘n vuurpeloton tereggestel word nadat Gambië se president, Yahya Jammeh, onderneem het om al die teregstellings teen die middel van September af te handel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP