Gaddafi glo bereid om mag op te gee
2011-07-05 11:06
Moskou – Muammar Gaddafi, die Libiese leier, is gereed om die tuig neer te lê in ruil vir die waarborg van sy veiligheid, het ‘n onbekende Russiese beampte Dinsdag in die Kommersant, ‘n Russiese sakekoerant, gesê.
Die berig het verskyn ‘n dag nadat Anders Fogh Rasmussen, die Navo-hoof, die Libiese krisis met Dmitry Medvedev, die president van Rusland, bespreek het.
“Die kolonel gee tekens dat hy gereed is om die tuig neer te lê in ruil vir die waarborg van sy veiligheid,” het die sakekoerant gesê.
Die Russiese bron het ook gesê dat dit wil voorkom of Frankryk een van die lande is wat die gewilligste is om toegang tot sommige van Gaddafi se familie-rekeninge weer aan hom beskikbaar te stel.
Volgens die Kommersant sal Frankryk Gaddafi ook help om vervolging in die internasionale strafhof in Den Haag vry te spring.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP