Gaddafi skuil dalk in gebergtes
2011-10-11 11:43
Tripoli – Muammar Gaddafi het heel moontlik in ‘n afgeleë en yl bevolkte, bergagtige gebied skuiling gesoek, het ‘n verteenwoordiger van Libië se Nasionale Oorgangsraad (NOR) Maandag gesê.
Mousa Alkoni, die NOR se verteenwoordiger vir die Taureg-stam, het gesê Gaddafi kan moontlik in die woestyn wat deur Libië, Niger en Algerië strek, skuil.
“Ons is bang dat hy dalk in dié omgewing skuiling gaan soek het omdat dit deur berge omring en beskerm word. Gaddafi se troepe het dit in die verlede vir skuiling gebruik,” het Alkoni gesê.
“Hulle kan ‘n klein stad – of ‘n klein land – in daardie omgewing opbou sonder dat enigiemand regtig weet wat daar aangaan. Ek stel voor dat helikopters uitgestuur word om die omgewing te gaan verken.”
Nadat die NOR Tripoli, die Libiese hoofstad, op 23 Augustus binnegeval het, het Gaddafi en twee van sy seuns op die vlug geslaan. Hulle ontwyk die NOR-magte sedertdien.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters