Gaddafi se seun waarskynlik in Libië verhoor
2011-11-20 17:00
Zintan, Libië – Gaddafi se seun sal in Libië verhoor word en hy sal nie aan die internasionale misdaadhof in Den Haag oorhandig word nie, het Mahmoud Shammam van die Libiese Nasionale Oorgangsraad (NOR) bekendgemaak.
Libië se NOR sal die besluit met die internasionale misdaadhof se hoofaanklaer bespreek wanneer hy die land Maandag besoek.
Seif al-Islam Gaddafi word deur die internasionale misdaadhof gesoek vir aanklagtes van misdade teen die mensdom.
Nietemin het Shammam aan die Associated Press gesê dat dit net regverdig vir Libiërs sal wees om Seif al-Islam in sy tuisland te verhoor, waar hy “misdade teen Libiese mense gepleeg het”.
Seif al-Islam is Saterdag in die woestyn in die suide van Libië gevang.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP