Gaddafi se seun 'sal gehang word in Libië'
2012-10-10 17:59
Den Haag – Muammar Gaddafi se seun, Saif al-Islam, sal sonder twyfel die doodstraf opgelê word indien hy in Libië verhoor word, het sy prokureur aan die Internasionale Strafhof in Den Haag gesê.
“Laat ons eerlik wees, as hy in Libië verhoor word sal Gaddafi gehang word,” het Melinda Taylor, Gaddafi se prokureur, vir regters vertel.
Saif al-Islam Gaddafi word deur die Internasionale Strafhof aangekla van misdade teen die mensdom vir beweerde aksies tydens die opstande in Libië wat sy pa ontsetel het.
Terwyl die Internasionale Strafhof vir Gaddafi in Den Haag wil verhoor, wil Libiese amptenare hom in sy tuisland verhoor.
Gaddafi word tans in Libië aangehou.
Libië se prokureurs het Dinsdag aan die Internasionale Strafhof gesê dat hulle genoeg bewyse het om Gaddafi in Libië te verhoor vir misdade teen die mensdom.
Taylor beweer weer dat Gaddafi se reg tot ‘n regverdige verhoor geskend word, omdat hy in Libië aangehou word.
Gaddafi word al sedert 19 November aangehou.
“Gaddafi is nie ‘n proefkonyn vir Libiese geregtigheid nie. Hy is ‘n persoon met regte. Hy moet nie in ‘n tronk in Libië sit terwyl die land probeer om ‘n regstelsel op te stel nie.”
Libië se prokureurs het bevestig die vinnigste wat hulle vir Gaddafi sal kan verhoor, eers in Februarie 2013 wees.
Die Internasionale Strafhof slegs iemand verhoor tensy daardie persoon se land nie in staat of onwillig is om die persoon te verhoor.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP