Gaddafi se seun dalk gou aangekla
2012-02-07 07:06
Pretoria – Kol. Muammar Gaddafi se “troonopvolgerseun” kan eersdaags reeds in ’n hof aangekla word weens misdrywe wat onder sy pa se bewind gepleeg is – veral dié wat verlede jaar in Gaddafi se laaste bloedige maande begaan is.
In ’n Libiese hof kan Seif al-Islam, die seun, die doodstraf kry as hy skuldig bevind word.
Intussen het 41 van Gaddafi se volgelinge wat by die onderdrukking van die opstand in Libië betrokke was, die eerste keer in ’n militêre hof verskyn.
Die nasionale oorgangsraad, wat Libië nou regeer, het besluit om mense wat van misdrywe in opdrag van Gaddafi aangekla word, eerder in ’n militêre hof as in ’n openbare hof te laat verhoor.
Fawzy Abdilal, Libië se minister van binnelandse sake, het in ’n onderhoud met CNN gesê die verhoor van Al-Islam, wat allerweë as sy pa se opvolger beskou is, kan binne weke of maande begin.
Hy het met die hulp van ’n span huursoldate, onder wie Suid-Afrikaners, ontvlug die dag toe sy pa se konvooi in Oktober verlede jaar voorgekeer en sy pa doodgeskiet is.
Hy is daarna in ’n afgeleë woestyngebied vermoedelik op pad na Niger aangekeer en word sedert November in Zintan, suidoos van Tripoli, aangehou.
Human Rights Watch het Al-Islam vroeër besoek en het aanbeveel dat hy ’n prokureur kry. Volgens Abdilal wil hy blykbaar nie ’n prokureur hê nie, want hy het nog nie vir een gevra nie.
Hy het ontken dat Al-Islam of enige ander Gaddafi-ondersteuner in aanhouding mishandel of aangerand word – ondanks gerugte tot die teendeel.
Die internasionale strafhof het Al-Islam saam met sy pa van misdrywe teen die mensdom aangekla. Hy gaan egter eers in Libië verhoor en gevonnis word.
Die militêre hof se eerste sitting het die naweek begin, maar is tot 15 Februarie uitgestel. Die 15 prokureurs wat die 41 mans verdedig, het gepleit dat ’n militêre hof weens die onverbiddelikheid daarvan nie die gewenste plek is om die mans te verhoor nie.
– Volg Nuus24 op
Twitter
- Beeld