Gaddafi se dogter kla Navo aan
2011-06-08 08:45
Brussel - Muammar Gaddafi, die Libiese leier, se dogter het ‘n klag van oorlogmisdade teen Navo in België aanhangig gemaak en beskuldig die alliansie daarvan dat hulle opsetlik ‘n burgerlike teiken opgeblaas het en haar dogter en ander familielede in die proses gedood het.
Die klag het betrekking tot die Navo-aanval op 30 April in Tripoli. Volgens Libiese beamptes is Gaddafi se jongste seun en drie van sy kleinkinders tydens die aanval dood.
“Die keuse wat Navo gemaak het om ‘n burgerlike huis in Tripoli te teiken, is ‘n oorlogmisdaad,” het Luc Brossollet, een van Aisha Gaddafi se prokureurs, gesê.
Die klag is by die vervolgingsdiens in Brussel en 'n federale regter ingedien.
Volgens die klagstaat het Gaddafi se dogter "in haar hoedanigheid as 'n moeder, 'n tante en 'n suster, onder heelwat veroordeling gely, wat sonder twyfel verwant is aan die 30 April-aanval.”
Aisha se broer, Seif al-Arab Gaddafi (29), haar vier maande ou dogtertjie, Mastoura, en haar nefies, Seif en Carthage (beide twee jaar oud), is in die bomaanval dood.
Aisha se prokureurs reken dat Belgiese howe regsbevoegdheid oor Navo het, omdat die militêre alliansie se hoofkwartiere in Brussel is.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP