Gaddafi moontlik van 'verdwyning' aangekla
2011-06-08 20:02
New York – Internasionale regters gaan binnekort moet bekend maak of hulle saamstem dat Muammar Gaddafi misdade teen die mensdom gepleeg het en hom daarvoor aankla.
Gaddafi kan dus moontlik ook ongewenste regsgeskiedenis maak.
Gaddafi is die eerste persoon wat deur die internasionale stafhof (ISH) van “gedwonge verdwyning” beskuldig is. Die fenomeen is deur die Argentynse en Chileense juntas in die 1970’s en 1980’s berug gemaak.
Duisende politieke teenstanders en vakbondlede het verdwyn sonder dat enige lyke gevind is. Geen moord of ontvoering kon bewys word nie.
Luis Moreno Ocampo, hoofaanklaer van die ISH wat ook die sake teen die junta-leiers hanteer het, het gesê hy het nou bewyse dat die gedrag in Libië “ontvoering, marteling en verdwyning is. Dit is ‘n metode om vrees te saai.”
Die ISH-regters gaan binne die volgende paar dae bekend maak of hulle saamstem dat Gaddafi misdade teen die mensdom gepleeg het. Gaddafi sal homself dan saam met Omar al-Bashir, Soedan se president, op die internasionale lys van mees gesoekte mense bevind.
Seif al-Islam, Gaddafi se seun, en Abdullah Senussi, die hoof van intelligensie, word ook aangekla daarvan dat hulle krimineel verantwoordelik is vir die moord, inhegtenisnemings, aanhouding, verdwynings en mishandeling van ongewapende betogers en beweerde teenstanders.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP