Gaddafi-magte het nou vier dae om oor te gee
2011-08-31 08:57
Tripoli – Die tussentydse Libiese leier het die magte van die afgesette kol. Muammar Gaddafi Dinsdag vier dae gegee om dorpe onder hul beheer oor te gee of deur ’n militêre konfrontasie in die gesig gestaar te word.
“Indien daar teen Saterdag nie hieraan gehoor gegee word nie, sal die kwessie militêr opgelos word,” het Mustafa Abdel Jalil, leier van die Nasionale Oorgangsraad, gesê.
“Ons wil dit nie eintlik doen nie, maar ons kan nie langer wag nie.”
Jalil, ’n voormalige justisieminister in die Gaddafi-regime, het ’n beroep op Algerië gedoen om Gaddafi se seuns te oorhandig. Hy het gesê die Gaddafi’s sal waarskynlik binnekort uit Algerië vlug.
Libiese amptenare het sy buurland Algerië van ’n daad van aggressie beskuldig nadat Gaddafi se vrou en drie van sy kinders Maandag in dié land toegelaat is.
Die soektog na Gaddafi duur voort. Hy is soek sedert die rebelle verlede Dinsdag sy hoofkwartier in Tripoli bestorm en sy 42 jaar lange bewind ná ’n ses maande lange rebellie, wat deur Navo gesteun is, beëindig het.
Volgens ’n 17-jarige lyfwag van Gaddafi se seun, Khamis, was Gaddafi tot Vrydag nog in Tripoli, maar het hy na die woestyndorp Sabha vertrek, het Sky News Dinsdag berig.
Gaddafi, Khamis (’n gevreesde militêre bevelvoerder) en Gaddafi se dogter, Aisha, het ’n kompleks wat onder ’n rebelle-aanval deurgeloop het in ’n voertuig verlaat. Volgens die lyfwag het sy bevelvoerder aan hom gesê hulle is op pad na Sabha. Sabha en Sirte, Gaddafi se tuisdorp, is twee van die enigste oorblywende vestings van die Gaddafi-magte.
Sommige rebelleleiers het vroeër gesê Khamis Gaddafi is Saterdag in ’n skietgeveg buite Tripoli dood.
Intussen het rebellemagte van oral op Sirte toegesak, maar nie ’n volskaalse aanval van stapel gestuur nie omdat hulle hoop Gaddafi-lojaliste sal beheer van die dorp vreedsaam oorgee.
Die sowat twee miljoen inwoners van Tripoli is steeds sonder kraanwater en elektrisiteit. Banke en winkels is gesluit en die stank van vullis en riool hang oor die stad.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– Die Burger
- Reuters