Gaddafi-lojaliste se verhoor uitgestel
2012-02-06 10:12
Benghazi – Die verhoor teen 41 Libiese mans wat daarvan verdink word dat hulle die voormalige Libiese leier Muammar Gaddafi gehelp het om 'n einde te bring aan die opstande, wat verlede jaar tot sy dood gelei het, is uitgestel, het die Libiese nuusagentskap LANA Sondag berig.
"Die besluit om die saak uit te stel is gemaak nadat daar geluister is na die pleidooie van die verdediging wat geargumenteer het dat die militêre hof nie 'n bevoegde eenheid is nie. Hulle het gevra dat die saak na die siviele regbank verwys moet word," het LANA op sy webwerf berig.
Die staatsaanklaers by die verhoor, wat by 'n militêre basis in Benghazi gehou word, het die 41 mans van moord en ook dat hulle gevangenesse gehelp het om te ontsnap, aangekla.
Die verhoor is tot 15 Februarie uitgestel.
"Die vertraging van die saak is op versoek van die 15 prokureurs gedoen wat vir meer tyd gevra het om die bewyse na te gaan en ook op versoek van sommige gevangenes wat hul eie prokureurs wil aanstel," het een van die regsverteenwoordigers gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters