Gaddafi-lasbrief: Libië kap terug
2011-06-28 11:28
Tripoli - Libië het die lasbrief vir Muammar Gaddafi, die Libiese leier, se inhegtenisname, wat deur die internasionale strafhof (ISH) uitgereik is, verwerp en gesê dit is ‘n skerm vir Navo se lugaanvalveldtog.
Die ISH se besluit is ‘n “skerm vir Navo, wat nog steeds probeer om Gaddafi te vermoor,” het Mohammed al-Gamudi, Libië se minister van justisie, gesê.
Hy het gesê Libië was nie 'n ondertekenaar van die Verdrag van Rome wat tot die stigting van die tribunaal in Den Haag gelei het nie en “aanvaar nie die regsbevoegdheid van die hof nie.”
Die ISH het die lasbriewe vir die inhegtenisname van Gaddafi (69), Seif al-Islam (39), sy seun, en Abdullah al-Senussi (62), die hoof van Libië se intelligensie, uitgereik vir misdade teen die mensdom.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP