Gaddafi is in goeie luim en reg vir oorlog
2011-09-14 17:01
Tunis – Muammar Gaddafi is nog steeds in Libië en in goeie luim met ‘n sterk weermag wat hom ondersteun, het sy woordvoerder Woensdag gesê.
Vir die afgelope paar maande was dit onbekend waar Gaddafi geskuil het. Die meeste van sy volgelinge het uit die land gevlug nadat magte wat die Nasionale Oorgangsraad (NOR) ondersteun Tripoli in Augustus oorgeneem het.
“Die leier is gesond en in hoë moraal. Natuurlik is hy in Libië,” het Moussa Ibrahim aan Reuters gesê.
“Dis nog lank voor die geveg verby is. Ons staan nog steeds sterk, ons weermag is nog steeds sterk, ons het duisende vrywilligers,” het hy gesê.
“Ons het beheer oor groot dele van Libië, omgewings op die noordelike kus, in die westelike dele van die land en die hele suidelike deel van die land behoort aan ons,” het hy gesê.
Ibrahim wou nie bekend maak waar hy homself tans bevind nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters