Gaddafi ‘is afgesny van buitewêreld’
2011-08-16 09:26
Zawijah – Libiese rebelle het Maandag gesê hulle het binne 24 uur ’n tweede strategiese dorp naby Tripoli oorgeneem. Dit voltooi die omsingeling van die hoofstad in die mees gewaagde opmars in hul opstand van ses maande teen die land se leier, kol. Muammar Gaddafi.
’n Uitdagende en oënskynlik geïsoleerde Gaddafi het oornag in ’n skaars hoorbare telefoonoproep aan die staatstelevisie ’n beroep gedoen op sy volgelinge om te veg teen rebelle na wie hy as “rotte” verwys het.
Gaddafi se magte het die kusdorp Zawijah bestook met mortiere en vuurpyle ’n dag nadat rebelle dit verower het in ’n aanval wat die belangrike kushoofweg van Tripoli na die Tunisiese grens afgesny het – ’n potensiële keerpunt in die oorlog.
Rebelle het gesê hulle het Maandag die dorp Garjan suid van Tripoli verower.
Dit kon nie dadelik bevestig word nie, maar indien dit waar is, kan dit die ander hoofroete na die hoofstad afsny.
“Garjan is ten volle in die opstandelinge se hande,” het ’n rebellewoordvoerder, ene Abdulrahman, gesê.
“Gaddafi is geïsoleer. Hy is afgesny van die buitewêreld.”
’n Gesant van die Verenigde Nasies het aangekom in die naburige Tunisië, waar bronne gesê het rebelle en regeringsverteenwoordigers op die eilandoord Djerba samesprekings voer.
– Die Burger
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters