Gaddafi-dogter moedig nuwe opstand aan
2011-11-30 11:46
Kaïro – Die dogter van Libië se ontslape leier, Muammar Gaddafi, het Woensdag ‘n beroep op alle “vrye Libiërs” gedoen om in opstand te kom teen dié land se nuwe heersers.
“My pa is nie weg nie. Hy sal altyd met ons wees,” het Aisha Gaddafi in ‘n boodskap op al-Rai, ‘n radiostasie in Sirië, gesê.
“Moet nie die bevele van jul vader (Gaddafi) vergeet nie; om aan te hou veg. Die nuwe heersers het net mag verkry deur Navo se hulp,” het Aisha gesê.
Gaddafi is in Oktober deur Libiese vegters in Sirte, sy tuisstad, gevange geneem en tereggestel.
‘n Gewapende opstand van agt maande lank het sy regime in Augustus tot ‘n val gebring.
Aisha, haar ma en twee broers, saam met hul kinders, het op 29 Augustus na Algerië gevlug toe Tripoli, die Libiese hoofstad, deur die Nasionale Oorgangsraad (NOR) oorgeneem is.
Die NOR het herhaaldelik al geëis dat lede van Gaddafi se familie aan Libië uitgelewer word om vervolg te word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA