Gaddafi 'bly in Libië en bly in mag'
2011-06-26 21:03
Tripoli – Die Libiese leier Muammar Gaddafi is glád nie van voornemens om mag te oorhandig of Libië te verlaat nie, ondanks bewerings deur rebelle in dié land dat hulle verwag die konflik in Tripoli sal binnekort tot ‘n einde kom, het die regering se woordvoerder Sondag gesê.
“Gaddafi is hier. Hy bly. Hy lei die land. Hy sal nie weggaan nie. Hy sal nie uittree nie,” het Mussa Ibrahim gesê toe hy gevra is oor berigte dat die rebelle binnekort ‘n aanbod van Gaddafi verwag.
“Ons sal nie ingee tot kriminele bendes wat ons stede gyselaar hou nie. Ons sal nie ingee tot die kriminele organisasie Navo nie. Almal hou aan om te veg. Ons is gereed om van straat tot straat en huis tot huis te veg,” het hy gesê.
Abdel Hafiz Ghoga, adjunkvoorsitter van die Nasionale Oorgangsraad (NOR), het Saterdag gesê tussengangers het aangedui ‘n aanbod van Gaddafi is op pad – ‘n klein stukkie lig aan die einde van die tonnel van bloedvergieting in dié land.
“Ons verwag binnekort ‘n aanbod – hy kan nie meer asemhaal nie,” het Ghoga gesê.
“Ons wil lewens beskerm, so ons wil hê die oorlog moet so gou moontlik tot ‘n einde kom,” het hy gesê. “Ons het hom nog altyd ‘n bietjie ruimte vir ‘n uitgang gelaat.”
Volgens Ghoga is die NOR nie in direkte kontak met Gaddafi nie, maar verstaan deur kontak met Frankryk en Suid-Afrika dat ‘n aanbod voorberei word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP