Fransman kry 25 jaar tronkstraf vir verkragting
2011-07-26 20:55
Bujumbura – ‘n Hof in Burundi het Maandag ‘n Fransman skuldig bevind aan die verkragting van vyf tienermeisies en het hom met ‘n 25 jaar lange tronkstraf en ‘n boete van €14 000 (sowat R133 000) gevonnis.
Patrice Faye (58) is daarvan beskuldig dat hy vyf meisies tussen die ouderdomme van 13 en 17 verkrag het. Hulle was leerlinge by die skool wat hy vir arm kinders gestig het. Hy het die aanklagtes ontken.
Elie Ntungwanayo, die woordvoerder van die hooggeregshof, het gesê Faye kan teen die vonnis appelleer.
Die verhoor is sedert 16 Januarie agter geslote deure gehou. Aanklaers het versoek dat hy ‘n 35 jaar lange tronkstraf moet uitdien.
Faye is vroeg in April in hegtenis geneem en is in die tronk in Bujumbura aangehou nadat hy deur die meisies beskuldig is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP