Franse gyselaar smeek om hulp in video
2010-06-10 14:02
Doebai – ‘n Franse sekuriteitsraadgewer wat elf maande gelede in Somalië ontvoer is, het om hulp gevra om vrygelaat te word in ‘n video wat op die internet beskikbaar gestel is.
“Ek vra dat die Franse mense alles sal doen om my vry te laat,” het die gyselaar in die video gesê. Hy was is in oranje geklee, en het op die grond voor vier gewapende mans gesit.
Hy het vanaf teks wat in Frans voor hom geplaas is, gelees.
Die man het ook sy ontvoerders, Somalië se Al-Kaïda-geïnspireerde Shebaab-rebelle, se eise in die video voorgelees.
Hulle eis dat enige politieke en militêre ondersteuning van Frankryk vir die Somaliese regering gestaak moet word. Alle buitelandse raadgewers en private sekuriteitsfirmas in Somalië moet ook onttrek.
Die ontvoerders dring ook daarop aan dat Mujahedeen-gevangenes wat in ander lande aangehou word, vrygelaat moet word.
Die ontvoerde man het homself die slagoffer genoem van Parys se beleid om by die interne sake van ander lande in te meng.
Bernard Kouchner, die Franse minister van buitelandse sake, het die eise verwerp en gevra dat mense die regering in Mogadisjoe moet ondersteun.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA