Frankryk: Rebelle in Mali binnekort geteiken
2012-10-16 10:45
Parys – ‘n Militêre sending in die noorde van Mali om Islamitiese militante te verdryf, sal binne die volgende paar weke begin, het Jean-Yves Le Drian, Frankryk se minister van verdediging, gesê.
“Dis ‘n kwessie van weke, nie maande nie, weke,” het die minister aan die France 2-televisiekanaal gesê. Hy het die noorde van Mali as ‘n “heiligdom vir terroriste” beskryf.
Le Drian het egter benadruk dat Frankryk nie voetsoldate sal stuur nie, maar eerder logistieke steun en hulp met beplanning sal verleen.
Hy het verder gesê die Verenigde Nasies se riglyne vir die optrede moet gerespekteer word.
Die VN se Veiligheidsraad het Vrydag 'n sperdatum van 45 dae gegee vir ingryping, en gesê die plan moet ondermeer die konsep van operasies, personeel wat benodig word en die geraamde koste insluit.
Mali is Maart in 'n chaos gedompel toe rebelle die presidensie omvergewerp het en beheer oor die noordelike dele van die land oorgeneem het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP