Familielede sterf in handgranaat-aanval
2010-01-15 16:47
Bujumbura - ‘n Man, sy vrou en een van hulle kinders is dood toe iemand ‘n handgranaat in die gesin se huis in die noorde van Burundi ingegooi het.
“Iemand het gisteraand ‘n handgranaat in Louis Nyabenda se huis in Busiga ingegooi,” het Aloys Nyabenda, plaaslike amptenaar, aan die media gesê.
“Die handgranaat het die dood van die hoof van die gesin, sy vrou en een van hul kinders, wat 15 jaar oud was, veroorsaak.”
Twee jonger kinders is blykbaar ook ernstig beseer tydens die voorval.
Nyabenda sê dit is nie op die stadium duidelik of die aanval gemotiveer is deur ‘n gronddispuut of omdat die slagoffer van heksery beskuldig word nie.
‘n Hele aantal verdagtes word aangehou vir ondervraging.
Handgranate is baie maklik bekombaar in Burundi.
Hulle word gereeld aangewend in twispunte rondom grond sowel as in familiegeskille.
- Sapa