Ethiopië: Joernalis kry 18 jaar vir 'terrorisme'
2012-07-13 14:05
Addis Ababa – ‘n Ethiopiese hof het Vrydag ‘n joernalis tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir “terrorisme” in ‘n verhoor wat wyd deur menseregtegroepe veroordeel is.
Altesaam 23 ander mense, insluitend verslaggewers en aktiviste, is tot tussen agt jaar en lewenslange tronkstraf gevonnis.
Die joernalis Eskinder Nga is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis, terwyl Andualem Arage, ‘n opposisielid van die Unity for Democracy and Justice-party (UDJ), tot lewenslange tronkstraf gevonnis is as gevolg van “die gewigtigheid van die saak” nadat hy skuldig bevind is aan betrokkenheid by ‘n verbode groep, het regter Hussein Yimer gesê.
Andualem is ook daaraan skuldig bevind dat hy ‘n “leier of besluitnemer van ‘n terroriste-organisasie” was.
Eskinder het na bewering saam met die Ginbot 7-groep gewerk. Dié groep word deur die Ethiopiese regering as 'n terroriste-groep beskou.
“Hy (Eskinder) het saam met die Ginbot 7-organisasie gewerk...” wat sy vonnis vererger het, het die regter gesê.
“Ná inagneming van hoe die kriminele daad gepleeg is, het die hof besluit op 18 jaar tronkstraf sonder parool.”
Beide Eskinder en Andualem was Vrydag in die hof om hul vonnisse aan te hoor, terwyl 16 van die beskuldigdes in absentia gevonnis is nadat hulle gevlug het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP