Ethiopië: 29 vas vir beplande bomaanvalle
2011-09-06 14:54
Addis Ababa – Altesaam 29 mense, insluitend nege lede van die opposisieparty, is Maandag in Ethiopië in hegtenis geneem omdat hulle glo bomaanvalle beplan het.
Demelash Woldemikael, adjunk-kommissaris van die federale polisie, het gesê die individue word sedert 27 Augustus gesoek. Almal het ‘n verbintenis met die Oromo Vryheidsfront (OLF), ‘n afskeidingsbeweging wat verlede jaar as ‘n terroristegroep gelys is.
“Hulle is almal deur OLF opgelei en ons het genoeg bewyse gekry wat daarop dui dat hulle beplan het om teikens op te blaas,” het Woldemikael gesê.
Sewe van die verdagtes is lede van die opposisie se Oromo People’s Congress-party en twee is van die Oromo Federalist Democratic Movement.
Woldemikael het gesê dat die verdagtes in hegtenis geneem is en in aanhouding is terwyl die polisie die saak verder ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters