Ekstremiste kap dief se hand in openbaar af
2012-08-09 16:02
Bamako, Mali – Islamitiese ekstremiste wat die noorde van Mali beheer het Donderdag gesê hulle het 'n vermeende dief se hand afgekap in ooreenstemming met die streng Islamitiese reëls wat op die land toegepas word.
Dit is die eerste amputasie sedert die ekstremiste vier maande gelede beheer oor die gebied oorgeneem het.
Die ekstremiste het reeds 'n ongetroude paartjie gestenig en ander mense geslaan.
"Ja, ek bevestig dit. Ons het gister in Ansongo sharia toegepas. Die hand van 'n dief is aggekap. Sharia vereis dit," het Mohamed Ould Abdine, 'n leier van die Beweging vir Eenheid en Jihad in Wes-Afrika (Mujao), aan die nuusagentskap AFP gesê.
'n Plaaslike regeringsamptenaar in die dorpie suid van Gao, een van die streeksentra in Mali se noorde, het gesê hy het die amputasie gesien.
"Ek is nou in Gao, maar ek was gister in Ansongo. Daar was baie bloed toe die hand afgekap is. Dit was die hand van 'n dief wat 'n motorfiets gesteel het," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP