Eks-leier van Madagaskar: 'Ek is onskuldig'
2012-08-07 16:08
Johannesburg – Madagaskar se ontsetelde leier, Marc Ravalomanana, het Dinsdag sy skuldigbevinding rakende die moord op betogers, wat nou deur Suid-Afrikaanse aanklaers ondersoek word, veroordeel.
Ravalomanana woon in Suid-Afrika sedert Madagaskar se huidige leier, Andry Rajoelina, hom in Maart 2009 met die hulp van die weermag ontsetel het.
Hy is in absentia gevonnis nadat betogers drie jaar gelede deur sy presidensiële wag vermoor is tydens betogings wat gelei het tot sy omverwerping. Altesaam 36 mense is dood en honderde is beseer.
Suid-Afrikaanse aanklaers het Sondag gesê hulle stel ondersoek in om vas te stel of die saak as misdade teen die mensdom ondersoek kan word.
“Nadat ek uit my land gedwing is, letterlik met ‘n vuurwapen wat op my gerig is, het die onwettige staatsgreep-regime ‘n boendoe-verhoor teen my gehou,” het Ravalomanana in ‘n verklaring gesê.
“’n Doelbewuste poging word aangewend om Suid-Afrikaners te mislei om te dink ek is skuldig aan ‘n misdaad en dit is nie waar nie,” het hy gesê.
“Die regime wat ‘n gewelddadige en onwettige staatsgreep in Madagaskar het, doen dit as deel van sy desperate stryd om my onvoorwaardelike terugkeer te voorkom.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP