'Ek het vir Gaddafi gesê dis verkeerd' – Zuma
2011-03-17 23:00
Johannesburg - President Jacob Zuma het Donderdag gesê hy het self die Libiese leier Muammar Gaddafi berispe omdat hy “sy mense skiet”, maar het nie gesê of Suid-Afrika die moontlikheid van ‘n geen-vlieg-sone oor Libië steun nie.
“Ons sien ‘n situasie in Libië waar Gaddafi sy mense skiet... ek het dit met hom bespreek en sy aksies verdoem. Ek het gesê dit is verkeerd en hy moet ophou daarmee,” het hy aan die Nasionale Vergadering gesê.
Hy het verwys na ‘n telefoongesprek wat hy verlede week met Gaddafi gehad het.
Zuma het gesê Suid-Afrika sal sy posisie koördineer met ander lede van die Afrika Unie. Dié liggaam het vandeesweek ‘n paneel van vyf presidente, wat Zuma insluit, aangewys om met die Gaddafi-bewind en rebelle in die land te onderhandel.
“Suid-Afrika sal te werk gaan onder die leiding van die Afrika Unie... die paneel het reeds begin werk,” het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA