Egiptiese weermag stop aktiviste in die tronk
2011-08-19 08:38
Kaïro – Die Egiptiese weermag het Woensdag twee jong mans wat beledigende slagspreuke oor die weermag uitgeroep het, tot ses maande tronkstraf gevonnis, het ‘n beampte gesê.
Hassan Said, ‘n 18-jarige aktivis, is in Kaïro in hegtenis geneem ‘n dag nadat soldate en die polisie ‘n optog deur aktiviste beëindig het. Die aktiviste eis ‘n burgerlike regering.
Daar is geen verdere inligting oor Karim Sayid (23), die tweede man wat in hegtenis geneem is, nie.
Die weermag, wat in beheer is sedert Hosni Mubarak in Februarie bedank het, het beloof om die regering aan die burgers te oorhandig na ‘n presidensiële verkiesing. Daar is egter nog nie ‘n datum vir dié verkiesing bekend gemaak nie.
Menseregtegroepe het die weermag veroordeel vir die inhegtenisneming van mense wat regerende generaals kritiseer. Hulle reken die weermag is nie objektief in sy vervolging nie omdat die weermag ook die klaer is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP