Egiptiese aktivis aangekla vir aanhitsing van geweld
2011-08-15 11:43
Kaïro – Die Egiptiese militêre aanklaer het ‘n prominente aktivis aangekla van laster en die aanhitsing van geweld teen die land se regerende weermag deur middel van sosiale netwerke, het prokureurs gesê.
Die aanklag, wat Sondag aanhangig gemaak is, is een van die ernstigste aantygings teen ‘n aktivis wat ‘n belangrike rol gespeel het in die organisering van duisende Egiptenare wat deel was van die opstand in Februarie.
Dié opstand het Hosni Mubarak, die voormalige president, gedwing om sy amp neer te lê.
Dit is ook ‘n sterk aanduiding dat die land se militêre heersers van die afgelope ses maande minder geduld vir kritiek het.
Ali Atef, ‘n prokureur, het gesê Asmaa Mahfouse, een van die Egiptiese revolusie se gesigte, se saak is “’n waarskuwing” aan ander aktiviste om nie die weermag te kritiseer nie.
“Dit was ‘n skrikwekkende ondervragingsessie,” het Atef gesê. “Wanneer mense van sulke goed aangekla word omdat hulle ‘n opinie gelug het, is dit baie ernstig. Dit is ‘n waarskuwing aan alle aktiviste, bloggers en gewone mense.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP