Egiptenaar glo deur militante onthoof
2012-08-31 20:49
Kaïro – Die Egiptiese polisie het Vrydag ‘n kop van ‘n man wat deur Islamitiese militante ontvoer is, gevind.
Hy is glo ontvoer weens sy rol in die moord op ‘n ekstremis.
‘n Sekuriteitsbeampte het gesê ‘n ander man, wat ook van die moord beskuldig word, is glo deur die Bedoeïen-militante ontvoer.
Volgens bronne van die Bedoeïen-stamme het die kop, wat in die Muqatta-streek in die noorde van Sinai gevind is, aan Manazil Bereikat behoort. Hy is glo van dieselfde stam as ‘n ekstremis wat op 26 Augustus in ‘n misterieuse ontploffing naby die Israeliese grens dood is.
Getuies het aanvanklik gesê die militant, Ibrahim Ouda Bereikat, is in ‘n ontploffing dood terwyl hy probeer het om ‘n vuurpyl na Israel af te vuur. Volgens sekuriteitsbronne is hy moontlik weens ‘n landmyn dood.
‘n Bedoeïen-bron, wat gevra het om anoniem te bly, het gesê die militante wat agter Manazil se ontvoering is, het hom en verskeie ander mans daarvan beskuldig dat hulle ‘n ploftoestel geplant het om Ouda Bereikat te vermoor.
Ouda Bereikat het glo deelgeneem aan verskeie aanvalle teen Israel.
Die militante en sy familielede vermoed sy moordenaars het saam met Israel gewerk en sê Manazi moet nie ‘n Moslem-begrafnis kry nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP