Egipte ontplooi meer troepe voor massa-betogings
2012-02-09 10:53
Kaïro – Generaals in Egipte wat in beheer van die land is, het Woensdag gesê hulle sal meer soldate en tenks oor die land ontplooi.
Dié aankondiging word gesien as ‘n waarskuwing aan die aktiviste wat ‘n nasionale staking vir die herdenking van die omverwerping van president Hosni Mubarak beplan.
Betogers wat aandring op ‘n vinniger oorgang na burgerlike beheer het ‘n beroep gedoen vir massa-stakings op 11 Februarie.
Minstens 15 mense is reeds in onlangse dae in straatgevegte in Kaïro en die oostelike stad Suez dood. Dié onluste kom nadat 74 mense ná 'n sokkerwedstryd dood is.
Egipte se regerende militêre raad het ‘n verklaring uitgereik waarin gesê word hy sal patrollies oor die land uitstuur om “die veiligheid... van openbare, private en staatsgeboue te verseker”.
Lt. genl. Sami Enan van Egiopte se gewapende magte het Egiptenaars aangemoedig om “die sekuriteit en stabiliteit van die land deur werk en produksie te beskerm”, het die staat-nuusagentskap MENA berig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters