Egipte arresteer 3 eks-ministers vir korrupsie
2011-02-18 11:07
Kaïro – Egiptiese owerhede het Donderdag die land se voormalige minister van binnelandse sake, Habib el-Adly, en twee ander eks-ministers in hegtenis geneem tydens ’n ondersoek na korrupsie, het sekuriteitsamptenare gesê.
Owerhede het ook die staal miljoenêr, Ahmed Ezz, gearresteer. Hy was ’n prominente lid van voormalige pres. Hosni Mubarak se Nasionale Demokratiese Party, wat aan bewind was.
El-Adly, wat in beheer was van die 500 000-sterk sekuriteitsmagte, is wyd blameer vir die dodelike brutaliteit wat deur polisie teen betogers in die onlangse massa-optogte gebruik is.
Ezz, voormalige minister van behuising Ahmed Maghrabi en die voormalige minister van toerisme, Zuheir Garana, is Donderdag in hegtenis geneem.
Al vier staan tereg op aanklagtes wat wissel van geldwassery na die misbruik van mag en die vermorsing van staatsfondse.
Betogers teen Mubarak se bewind het dikwels korrupsie van die regering as ’n sleutelrede agter die beweging gevoer.
Sekuriteitsamptenare het gesê al vier mans sou aanvanklik vir 15 dae in hegtenis gehou word.
Dié vier is voorheen verban om in die buiteland te reis en hul bates is ook gevries. Hulle vorm deel van ’n dosyn of wat voormalige ministers en sakemanne wat ondersoek word vir korrupsie of die misbruik van gesag.
Meeste van die wat ondersoek word vorm deel van ’n groep sakemanne wat die politiek betree het en Mubarak se seun, Gamal, ondersteun het. Gamal Mubarak (47) het die afgelope dekade vinnig deur die range van die heersende party beweeg om naas sy pa die magtigste politikus in Egipte te word.
Gamal Mubarak en sy groep sakemanne word blameer vir die ekonomiese hervorming wat die ekonomie geliberaliseer het, maar wat die land se arm massas weerhou het om voordeel uit die ekonomiese groei te trek.
Ezz, wat sy rykdom gebruik het om sy politieke loopbaan te bevorder, word blameer vir die wydverspreide bedrog wat parlementêre verkiesings in November en Desember geskend het. Die heersende party het meeste van die parlement se 518 setels gewen. Gedurende ’n televisieonderhoud het Ezz hierdie aanklag ontken.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP