Egipte: Noodtoestand dalk nie opgehef voor verkiesing
2011-10-05 09:19
Kaïro – Egipte se militêre heersers het Dinsdag vir Leon Panetta, die Amerikaanse minister van verdediging, verseker dat die noodtoestand wat tans in die land van krag is, opgehef sal word.
Daar is egter geen aanduiding gegee dat dit vóór die parlementêre verkiesings van volgende maand gedoen gaan word nie, het Amerikaanse beamptes gesê.
Panetta het Kaïro Dinsdag besoek in ‘n poging om Egipte se tussentydse regering te oortuig om die noodtoestand so gou as moontlik op te hef.
Kragtens die noodtoestand kan iemand in hegtenis geneem word sonder dat daar enige aanklagte teen hom aanhangig gemaak word en die regte van die persoon word in ‘n spesiale hof beperk.
Die Egiptiese leiers het vir Panetta gesê dat hulle "ernstig kyk" na 'n geleentheid om die noodtoestand op te hef, het Pannetta ná ‘n vergadering met veldmaarskalk Hussein Tantawi, die land se militêre leier, gesê.
Dis egter nie duidelik of dit voor die verkiesing, wat op 28 November begin, sal gebeur nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP