Egipte: Koalisie dreig om verkiesing te boikot
2011-09-29 11:45
Kaïro – ‘n Koalisie wat deur die Moslem Broederbond gelei word, het Woensdag gewaarsku dat hulle die verkiesing in Egipte in November sal boikot as die verkiesingswet nie gewysig word nie.
Die koalisie het beswaar aangeteken oor Artikel Vyf van die verkiesingswet. Dié wet verhoed politieke partye om vir ‘n derde van die parlementêre setels mee te ding – die setels word vir onafhanklike kandidate gehou.
“Ons weier om aan die verkiesings deel te neem as Artikel Vyf van die verkiesingswet nie gekanselleer word nie,” het die koalisie in ‘n verklaring gesê.
Die verklaring is namens die Demokratiese Koalisie gepubliseer. Die groep sluit in die Moslem Broederbond, die Vryheid- en Geregtigheidsparty en die liberale al-Waf-party, wat ‘n vertakking van die Broederbond is.
Egipte se tussentydse militêre heersers het Dinsdag aangekondig dat die eerste fase van die parlementêre verkiesings, die eerste sedert Hosni Mubarak onttroon is, op 28 November gehou gaan word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP