Egipte: Gaspyplyne aangeval
2011-02-05 14:44
Kaïro – Onbekende saboteurs het Saterdag ‘n gaspyp vanaf Egipte na Jordanië aangeval, het owerhede aan AFP gesê.
Die voorval het die land gedwing om ‘n tweede pyplyn, wat gas aan Israel verskaf, ook toe te maak.
Aanvallers het ‘n deel van die pyplyn in die Lihfen, in noordelike Sinai naby Gasa, met plofstof gepak en gedetoneer.
Lede van die weermag het gekeer dat die vuur na die ontploffing versprei, het ‘n regeringsamptenaar gesê terwyl nooddienste die vlamme geblus het.
Dit was nie onmiddelik bekend wie verantwoordelik was en of daar ‘n verwantskap is tussen die aanval en die gewelddadige protesoptrede teen die Egiptiese president, Hosni Mubarak, nie.
Betogings teen Mubarak se outokratiese regering woed nou al vir 12 dae in Egipte, en het ook uitgekring na ander dele van die wêreld, insluitende Suid-Afrika, waar ‘n klein groep betogers in Johannesburg in solidariteit met Egipte ‘n protesoptog gehou het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP