Egipte: Drie sterf toe fabriek ineenstort
2010-12-12 19:06
Kaïro – Minstens drie mense is dood toe ‘n fabriek in die Mediterreense stad van Alexandria ineengestort het as gevolg van die slegte weer in Egipte.
Volgens beamptes het ‘n sandstorm, sterk winde en swaar reën Sondag in Egipte voorgekom wat talle hawes gesluit en verkeer in die Suez-kanaal ontwrig het.
Vyf mense is ook ernstig beseer toe die tekstielfabriek in Alexandria ineengestort het, het ‘n sekuriteitsbeampte gesê.
Die beampte het die ongeluk op die “slegte weer en swaar reën” blameer.
“Dit reën van gister (Saterdag) af aanhoudend en baie hard in Alexandria. Die gebou is 30 jaar oud en die fondasies kon dalk beskadig wees,” het die beampte gesê.
Die fabriek was ses verdiepings hoog.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP