Egipte: 75 mense aangekla ná sokkergeweld
2012-03-15 17:56
Video - Egipte: 74 dood in sokker-onluste
Minstens 74 mense is dood ná ondersteuners van twee sokkerspanne in Egipte op die veld gehardloop en mekaar met stokke en klippe bestook het.
KYK
Kaïro – Egipte se senior staatsaanklaer het Donderdag 75 mense van moord en nalatigheid aangekla in verband met die dodelike sokker-onluste verlede maand in die stad Port Said.
Minstens 74 mense is in Februarie dood nadat geweld by 'n sokkerwedstryd uitgebreek het.
Diegene wat aangekla is sluit in nege polisiebeamptes en twee minderjariges. Onder die polisiebeamptes is maj. genl. Issam Samak, wat ten tyde van die voorval die hoof van sekuriteit van Port Said was.
Samak is reeds geskors.
Geweld het ná die eindfluitjie in die stadion uitgebreek toe die tuisspan, Al-Masry, die span Al-Ahly, Egipte en Afrika se mees suksesvolle span, met 3-1 geklop het.
Ondersteuners van Al-Masry het die veld bestorm en Al-Ahly-ondersteuners met klippe, bottels en plofstowwe aangeval.
Baie ooggetuies beweer die polisiebeamptes by die stadion het niks gedoen om die geweld te keer nie.
Volgens 'n verklaring deur die Egiptiese staataanklaer se kantoor is die aanklagte gebasseer op beeldmateriaal van die geweld, asook bekentenisse deur verdagtes. Die verklaring sê verder dat die moord op die betogers vooraf beplan was en dat die skuldiges hulle vooraf vir die massamoord met messe, klippe en plofstowwe voorberei het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP