EU: Sanksies teen Zim bly
2009-09-11 14:37
Die Europese Unie (EU) is nie gereed om sy sanksies teen Zimbabwe te lig nie, het Fredrik Reinfeldt, Sweedse premier, gister gesê voordat hy met pres. Jacob Zuma vergader het.
Sy woorde kom nadat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) Dinsdag op ’n spitsberaad vir ’n einde aan sanksies gevra het.
“Ek wil dit duidelik stel: Die EU is nie bereid om die beperkings op Zimbabwe te lig nie,” het Reinfeldt gesê. Swede hou tans die roterende EU-voorsitterskap.
“Dit is nie die beperkings wat die probleme in Zimbabwe skep nie; dis van wanbestuur dat menseregte nie gerespekteer word nie.”
Reinfeldt het gesê Zimbabwe sal ’n “belangrike deel” wees van sy gesprek met Zuma. “Ek stel belang om te hoor wat pres. Zuma se siening is van die uitkoms van die SAOG-beraad.
“Ons maak op Afrika-leiers staat om dáár en teenwoordig te wees, en te beïnvloed.”
’n Hoëvlak-EU-afvaardiging besoek Zimbabwe die naweek ná ’n beraad met Suid-Afrika vandag.
Gunilla Carlsson, Sweedse minister van internasionale ontwikkelingsbetrekkinge, en Karel De Gucht, EU-hulpkommissaris, is deel van die afvaardiging. Dit is die eerste sodanige besoek sedert sanksies in 2002 teen Zimbabwe ingestel is.
Hulle vergader môre en oormôre met onder andere pres. Robert Mugabe en Morgan Tsvangirai, premier.
Suid-Afrika het eergister by monde van adj.pres. Kgalema Motlanthe gesê die SAOG se benadering tot sanksies is “baie verantwoordelik” terwyl Zimbabwe ekonomiese verval probeer omkeer.
- Beeld