Duitsers belê miljoene in park in Zim
2011-09-30 08:37
Johannesburg - Die Duitse bewaringsorganisasie Frankfurt Zoological Society (FZS) het $13 miljoen (sowat R91 miljoen) belê in Gonarezhou, Zimbabwe se “deurgang” na die Groter Limpopo-oorgrenspark.
Dié geld sal gebruik word om dié natuurreservaat, wat die afgelope elf jaar weens die politieke verval in Zimbabwe feitlik op sy knieë gedwing is, weer op die been te bring.
Die Zimbabwiese staatsbeheerde koerant, The Herald, het verlede week berig die FZS en die Zimbabwe-bewaringsowerheid sal nou saam die Gonarezhou-bewaringsprojek bestuur. Die projek het tot stand gekom nadat die regering en die FZS ’n memorandum van verstandhouding gesluit het.
Luidens die koerantberig kom dié Duitse belegging in ’n tyd dat Zimbabwe se bewaringswerk ’n “algehele laagtepunt bereik het” weens internasionale sanksies teen die regering van pres. Robert Mugabe en sindikate wat die biodiversiteit in Gonarezhou bedreig. Dit is een van die wêreld en Zimbabwe se grootste bewaringsgebiede.
“Dié nieregeringsorganisasie het ondanks sanksies van die Duitse regering teen Zimbabwe ’n kontrak van tien jaar met dié land se bewaringsowerheid onderteken om Gonarezhou op te bou,” lui die berig.
Intussen sukkel Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe steeds ná ses jaar om Gonarezhou amptelik by die Groter Limpopo-oorgrenspark in te skakel. Ooreenkomste tussen leiers van dié drie lande in 2006 was daarop gemik om Gonarezhou met ’n brug oor die Limpoporivier met die Krugerwildtuin te verbind. Die sperdatum is destyds vasgestel op “maande voor die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi”.
Edna Molewa, minister van omgewingsake, het Donderdag in ’n geskrewe antwoord op ’n vraag van die DA oor die toekoms van Gonarezhou gesê die finale verbinding tussen dié natuurreservaat en die Krugerwildtuin sal waarskynlik eers op die langtermyn gedoen kan word.
Sy het daarop gewys dat die deurgang, wat ’n pad en ’n brug oor die Limpoporivier insluit, geweldig duur gaan wees. Verskeie mense in Sengwe sal ook uit die gebied verskuif moet word. Dié gebied sal deel van die oorgrenspark uitmaak.
Gareth Morgan, DA-woordvoerder oor omgewingsake, het gesê hy is verheug dat planne om Gonarezhou by die Groter Limpopo-oorgrenspark in te skakel nie laat vaar is nie.
Hy het gesê hy is optimisties dat finansiering vir die korridor gekry sal kan word as Gonarezhou eers behoorlik op die been is. In hierdie stadium is dit beter dat dié natuurreservaat nie deel is van die Krugerwildtuin nie, omdat wildstropery steeds ernstige afmetings in die gebied aanneem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger