Duitse man in Nigerië vermoor
2012-05-31 23:00
Dakar/Abuja – Die polisie in die noordelike Nigeriese stad Kano het bevestig dat 'n Duitse man, wat vier maande gelede in die land ontvoer is, deur sy gevangenemers vermoor is.
Umar Faroukh, die polisie in Kano se se inligtingskommissaris, het aan dpa gesê die Duitse man is Donderdagoggend doodgemaak.
'n Berig deur Nigerië se Daily Trust-koerant het gesê die man is vermoor terwyl sekuriteitsmagte beplan het om hom te red.
Die man, wat vir die konstruksiegroep Bilfinger Berger gewerk het, is einde Januarie ontvoer.
Ná maande se ondersoek het soldate hom by 'n wegkruipplek naby die plaaslike Bayero universiteit opgespoor en sou 'n reddingspoging uitvoer toe die man na bewering doodgeskiet is.
Die ontvoerders word glo verbind met al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb.
In Maart het 'n video op die internet verskyn waarin die ontvoerders gevra het dat 'n Duitse-Turkse vrou, wat tans tronkstraf uitdien omdat sy terroriste-organisasies ondersteun, vrygelaat moet word.
Die vrou se man is 'n lid van die groep wat in 2010 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is nadat hulle terroriste-aanvalle in Duitsland beplan het.
In die video, wat deur die Mauritaniese nuusagentskap ANI bekom is, kan die slagoffer gesien word waar sy hande agter sy rug vasgemaak is en hy omring is deur gewapende mans.
In die video doen hy 'n beroep op "ouers, vriende en die Duitse publiek" om Berlyn te oortuig om 'n einde te bring aan die marteling van hul Moslem-suster en slegs haar bevryding sal sy lewe red.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA