Duitse kaptein terug na kaping
2009-08-11 14:11
München- Die Kaptein van die Hansa Stavanger is terug in sy tuisland nadat hy en sy bemanningslede sowat vier maande gelede deur seerowers in Somalië ontvoer en aangehou is.
Krzysztof Kotiuk het Dinsdagoggend in München aangekom waar hy met familie en vriende herenig is. Hy is daarna deur die polisie ondervra.
Die bemanningslede sal ook deur die loop van Dinsdag in hulle verskeie tuislande aankom. Hulle is onder andere vanaf Duitsland, Rusland, Oekraïne en die Filippyne afkomstig.
Die vragskip is in Mombasa, Kenia geanker nadat die eienaar van die skip ‘n $3 miljoen (R24 miljoen) losprys daarvoor moes betaal.
Duitse polisie sal oor die volgende twee dae die skip fynkam vir vingerafdrukke.
Die skip is op 4 April vanjaar deur seerowers op die kus van Somalië gekaap.
–Sapa, dpa