Duisende herdenk opstand op Tahrir-plein
2012-01-25 13:30
Kaïro – Duisende Egiptenare begin by Kaïro se Tahrir-plein saamdrom om die begin van die opstand te herdenk wat dié land se voormalige diktator, Hosni Mubarak, uiteindelik uit die kussings gelig het.
Vrywilligers het die duisende mense wat reeds op die plein byeengekom het, se identiteitsdokumente nagegaan en hulle deursoek.
Geen weermag- of polisielede was teenwoordig nie.
'n Militêre raad het beheer oor die land oorgeneem toe Mubarak op 11 Februarie 2011 die tuig neergelê het.
Die president staan nou tereg op aanklagte dat hy medepligtig is aan die moord op honderde betogers tydens die opstand, wat 18 dae geduur het. Hy en sy twee seuns, Alaa en Gamal, staan ook tereg op aanklagte van korrupsie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP