Drie sterf ná ontploffing langs sokkerveld
2012-02-27 23:01
Mogadisjoe – Drie mense is Maandag tydens ‘n ontploffing by ‘n sokkerwedstryd in die Somaliese hoofstad Mogadisjoe dood, het die polisie en mediese beamptes gesê.
“’n Groot ontploffing, vermoedelik ‘n bom langs die pad, het by die veld afgegaan toe die wedstryd sou begin... Drie toeskouers is dood en sewe ander is beseer,” het kol. Abdi Mohamed gesê.
Volgens getuies het die ontploffing plaasgevind toe toeskouers by die sokkerveld in die suidelike Hararyale-woonbuurt opgedaag het.
Een persoon is op die toneel dood, terwyl twee ander in die hospitaal dood is, het ‘n ambulansbestuurder, Mohamed Moalim, gesê.
“Die ontploffing het by ‘n hoek van die veld plaasgevind voordat die wedstryd begin het. Ek het ‘n jong man se lyk gesien,” het ‘n getuie, Abduhafid Bashir, gesê.
Niemand het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie, maar Islamitiese Shebab-rebelle het sedert Augustus verskeie granaat- en selfmoordaanvalle geloods.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP