Drie noodlenigingswerkers in Algerië ontvoer
2011-10-24 18:39
Algiers – Drie noodlenigingswerkers is uit ‘n vlugtelingkamp in die Weste van Algerië ontvoer, het beamptes volgens Al Jazeera gesê.
Twee Spanjaarde en ‘n Italianer is uit die Rabuni-kamp, waarin hoofsaaklik vlugtelinge van die Westelike Sahara woon, ontvoer.
Die Polisario-beweging wat in Algerië gebaseer is en onafhanklikheid van die Westelike Sahara-streek wil hê, is in beheer van die vlugtelingkamp. Die beweging het gesê dat gewapende mans die drie net voor middernag Saterdag ontvoer het.
In ‘n verklaring is die slagoffers geïdentifiseer as Rossella Urru, ‘n Italiaanse vrou, Ainhoa Fernandez Rincon, ‘n Spaanse vrou, en Enrico Gonyans, ‘n Spaanse man. Volgens Polisario is Gonyans en een van werkers se Saharawi-wagte in die aanval beseer.
– Lees die volledige artikel op Al Jazeera.
– Volg Nuus24 op Twitter.