Drie mense dood tydens stormloop in Soedan
2012-01-09 13:00
Kartoem – Drie mense is dood en talle beseer tydens ‘n stormloop nadat die polisie traangas Sondag by ‘n Soedannese Onafhanklikheidsdag-viering afgevuur het, het ‘n beampte gesê.
Die voorval het by ‘n stadion in die Sennar-staat se hoofstad, Singa, gebeur.
“Ons weet nie hoekom traangas gebruik is nie,” het Ahmed Abbas, die staatsgoewerneur, gesê.
Abbas het gesê die drie mense is dood en ses ander is beseer toe die mense tydens ‘n stormloop by die stadion se hek probeer uitkom het.
Ooggetuies wat deur die nuusagentskap AFP genader is, het egter gesê daar was meer slagoffers.
“Ek het vyf lyke gesien,” het ‘n man buite die stadion wat deur polisie omsingel was, gesê.
“Ek het gehoor hoe mense gil en traangas geruik.”
‘n Ander ooggetuie het gesê daar was “’n probleem” tussen die mense wat die feesvieringe bygewoon het.
“Toe het die polisie traangas gebruik. Mense het probeer om weg te hardloop. Groot skares het probeer om by die hekke van die stadion uit te kom,” het die man gesê.
Dit is nog onduidelik presies wat die voorval veroorsaak het.
Volgens ooggetuies het meer as 2 000 mense die feesvieringe bygewoon.
Soedan se 56ste Onafhanklikheidsdag was op 1 Januarie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP