Drie VN-werkers in Darfoer dood
2011-10-11 19:02
Darfoer – Drie VN-vredeswerkers wat op patrollie in ‘n vlugtelingkamp in Noord-Darfoer was, is deur aanvallers doodgemaak, het die Verenigde Nasies Dinsdag gesê.
Ses werkers is beseer, waarvan drie in ‘n kritieke toestand is, tydens die aanval Maandagnag. Die aanval het by die Zam Zam-kamp naby El Fasher in Darfoer gebeur, het die VN-sending in Darfoer (UNAMID) in ‘n verklaring gesê.
Die identiteite van die drie slagoffers, twee soldate en een polisie-adviseur is nie dadelik bekend gemaak nie, maar al drie was van Afrika-lande.
Altesaam 33 vredeswerkers is in Darfoer dood sedert die sending in 2007 daar ontplooi is in ‘n poging om die geweld tussen die regering en rebelle stop te sit, het UNAMID gesê.
Volgens die VN is minstens 300 000 mense dood sedert die opstand in 2003 begin het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP