Dokumente dui op SA se rol in Libië
2011-09-07 09:13
Johannesburg – Dokumente wat op ’n straathoek in Tripoli ontdek is, bevat nuwe leidrade oor Suid-Afrikaanse betrokkenheid in die Libiese konflik.
Die hoofsaaklik Arabiese dokumente sluit onder meer ’n faktuur in van ’n Suid-Afrikaanse veiligheidsmaatskappy wat gespesialiseerde opleiding in Libië sou gedoen het toe die konflik in dié land op sy hoogtepunt was.
Nog ’n dokument gee ’n uiteensetting van planne vir ’n 136-sterk “snel-ingrypingsmag” (rapid intervention force) onder aanvoering van ’n Suid-Afrikaner, asook planne om wapens van ’n Chinese maatskappy via Suid-Afrika daarheen te verskeep.
Dit sou die VN se wapen-embargo wat in Februarie teen Libië ingestel is, verbreek.
Graeme Smith, buitelandse verslaggewer van Kanada, se koerant Globe and Mail het die dokumente in Bab Akkarah, ’n spogwoonbuurt van die hoofstad Tripoli, ontdek. Baie van die Muammar Gaddafi-elite en van sy seuns het tot onlangs daar gewoon.
“Die dokumente het op ’n straathoek gelê,” het Smith uit Tripoli gesê. “Dit lyk asof iemand dit haastig daar neergesmyt het.”
Volgens Smith het gewese Gaddafi-aanhangers wat deel is van die land se nasionale oorgangsraad die name van militêre amptenare in die dokumente uitgewys. Hulle het ook die geloofwaardigheid van die dokumente bevestig.
Een van die dokumente, wat Smith eksklusief met Volksblad gedeel het, is ’n faktuur van ’n maatskappy met die naam Alfa Security Services, wat ’n posadres in Pretoria het.
Die dokument, gedateer 29 Junie vanjaar, bevat inligting oor ’n kontrak van 12 maande vir “ses spesialis-opleidingsbeamptes” en twee “ondersteuningspesialiste” ten bedrae van $5,4 miljoen (R37,8 miljoen).
Volksblad het intussen vasgestel die posadres op die dokument is die geregistreerde posbus van SANParke.
Wanda Mkutshulwa, woordvoerder van SANParke, het gesê die dokument is “kommerwekkend” .
Volgens Mkutshulwa sal “’n deeglike ondersoek gedoen moet word”.
“Niemand hoort ’n posadres met SANParke te deel nie. SANParke is nie verbind aan so ’n maatskappy nie en ons is nie bewus van sy bestaan nie.”
Dit is moontlik dat die faktuur onder ’n vals naam of ’n front-naam uitgereik is. Geen so ’n maatskappy verskyn op die registrateur van maatskappye se databasis nie.
Nog ’n dokument, in Arabies en Engels, gee ’n skematiese uiteensetting van die ingrypingsmag beman deur 73 Suid-Afrikaners en 63 Libiërs onder aanvoering van ’n Suid-Afrikaner.
Op die dokument is ook ’n lys wapens wat die spanne sou gebruik, insluitende 127 AK47-aanvalsgewere, 12 PKM-masjiengewere, 12 RPG-7 vuurpylrigters, 12 skerpskutgewere, 60mm mortiere, pistole en pakke mediese voorraad. Luidens die dokument sou 35 Land Cruisers en twee 8 ton-vragmotors vir die span beskikbaar gestel word. ’n Libiese kameraman sou die groep saam met ’n tolk vergesel.
Smith het ook ’n memorandum van ses bladsye in Arabies op die briefhoof van die “tegniese divisie” tussen die bondel dokumente gevind.
Die memorandum, gedateer 31 Julie vanjaar, verskaf inligting oor geheime samesprekings in China deur Libiese weermagoffisiere wat wapenvervaardigers besoek het om minstens $200 miljoen se wapens, ammunisie, vuurpylrigters, tenkafweermissiele en draagbare grond-lug-projektiele te koop.
Luidens die memorandum het die Chinese wapenvervaardigers voorgestel dat “die kontrakte met óf Algiers óf Suid-Afrika gesluit moet word omdat die twee lande samewerkingsooreenkomste met China het”.
China se departement van buitelandse sake het vandeesweek die samesprekings bevestig maar het gesê die Chinese regering was nie daarvan in kennis gestel nie.
Volgens die departement is geen kontrakte onderteken en geen wapens versend nie.
Tlali Tlali, woordvoerder van die nasionale komitee oor die beheer oor konvensionele wapens (NCACC), het Dinsdag gesê geen permitte is uitgereik vir die verskeping van wapens van China, via Suid-Afrika, na Libië nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad