Dokters gee pad oor geweld in Soedan
2010-07-31 13:38
Juba, Soedan - Geweld in die suide van Soedan het die noodlenigingsorganisasie Dokters Sonder Grense (MSF) gedwing om sy werksaamhede in die Gumuruk-gebied in die Jonglei-staat vir eers op te skort, het die organisasie Saterdag gesê.
Drie verskillende voorvalle van geweld in die afgelope maand, insluitend aanvalle deur gewapende mans, het MSF laat besluit om mediese sorg in die gebied vir eers te staak, het 'n verklaring gelui.
"Aanvalle op ons personeel en klinieke verhoed ons om noodsaaklike mediese sorg te verskaf," het Rob Mulder, hoof van die MSF se kantoor in die suide van Soedan, gesê.
"Hierdie voorvalle is totaal onaanvaarbaar want dit verhoed ons om by pasiënte uit te kom en stel ons personeel in gevaar," het hy gesê.
Die kliniek bedien 'n bevolkingsgroep van ongeveer 30 000 mense, en het 160 kinders wat aan wanvoeding ly, versorg, het Mulder gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP